Meer Oemf vir jou Ryding

Oct 10, 2025 | Tuning & Performance

Daar is baie wanopvattings oor die tendens om jou voertuig se enjin te herprogrammeer of, om die meer algemene term te gebruik, jou enjin te “chip”. Lees meer oor die gewilde Unichip-oplossing, ideaal vir eienaars wat ‘n bietjie meer woema by hul ryding wil voeg.

 

 

Wat is die Unichip?

Soos met alle dinge in die lewe, is daar meer as een manier om iets te doen en as sulks is daar verskeie prosesse om jou voertuig se enjin te herprogammeer, karteer of ‘n prestasie-gedrewe naverkope skyfie te installeer. Daar is baie instellingsmaatskappye, oftewel tuners, soos die Engelsman sou sê, en produkte wat op prestasie-verbetering gemik is op die mark. Ons het egter besluit om ons toets saam met Dastek en sy immergewilde en bekende Unichip te doen. Ons proefkonyn vir die projek was ‘n 2016 Toyota Land Cruiser Prado met sy bewese 3.0-liter D4-D turbo-aangejaagde viersilinder-enjin. Ons het by Cornel Jonker, algemene bestuurder van die Dastek-groep en een van die meesterbreine agter Unichip, aangeklop om meer uit te vind oor die proses.

 

 

Wat is herprogrammering?

Om herprogrammering of chipping te verstaan, moet ‘n mens eers die konsep van instelling of dan nou tuning verstaan. Enige petrolkop sal die term dadelik verstaan, maar vir die leek gaan dit oor drie kritieke aspekte van die binnebrandenjin: brandstof, saamgeperste lug en interne verbranding.

In die ou dae is die lug of brandstofmengsel wat jou voertuig se enjin binnegekom het, deur ‘n vergasser (carburettor) bestuur. Jy kon jou vergasser maklik aangepas het deur ‘n skroefie te draai, amper soos om ‘n musiekinstrument soos ‘n kitaar of ‘n klavier, te stem. Dit sou jou in staat stel om ‘n enjin in te stel om te verhoed dat dit te flou, nie genoeg brandstof wat by verbranding inmeng nie, of te ryk, te veel brandstof en nie genoeg lug wat inmeng nie loop. Kortom, soos wat jy jou musiekinstrument moet instel vir optimale prestasie moet jy dieselfde met jou motorenjin doen. En dit is basies wat enjin instelling is – om die genoemde parameters aan te pas om jou enjin op die mees optimale en veilige manier te laat loop.

 

Daar is egter vandag een groot verskil: rekenaars.

Ons leef in ‘n digitale era. Ons gebruik nie meer platespelers of filmkameras nie, maar eerder ons slimfone of skootrekenaars vir beide hierdie toepassings. Dieselfde geld vir ons voertuie. In plaas van ‘n vergasser, het motors deesdae ‘n elektroniese beheereenheid (ECU), wat in wese ‘n aanboordrekenaar is. Hierdie rekenaar beheer of bestuur ‘n hele klomp verskillende parameters van jou voertuig se enjin, waarvan die belangrikste die lug/brandstofmengsel, die enjin se interne temperatuur en druk, kleptydberekening, die spoeltempo van die turbo, asook die hoeveelheid lug wat deur die turbo self in die enjin ingevoer word, is.

‘n Instellingsmaatskappy, soos Dastek, kan hierdie parameters aanpas en die eienskappe van jou voertuig se enjin op twee maniere verander. Die eerste metode is om die ECU te herprogrammeer, wat bekendstaan as kartering. Dit behels dat die genoemde parameters permanent verander word om óf werkverrigting óf doeltreffendheid te verbeter. ‘n Naverkope enjinskyfie doen dieselfde ding, maar op ‘n ander manier – in hierdie geval, word die parameters na en van die sensors in die ECU aangepas deur ‘n volledig progammeerbare abba-rekenaar (piggyback) te gebruik.

Die eerste abba-rekenaar – oftewel skyfie – was die Unichip, wat Dastek al langer as 30 jaar lank ontwikkel. Dus, in plaas daarvan om die enjin rekenaar te herprogammeer, sal die Unichip diens doen as ‘n abba-rekenaar sodat die parameters voortdurend heringestel kan word, soos die voertuig verouder of veranderinge aan items soos uitlaatstelsels aangebring word wat uiteraard die parameters sal verander.

 

 

Hoe word die Unichip Geïnstalleer?

Wanneer die Unichip aan jou voertuig gekoppel is, bedraad, X-Connect of met ’n EasyConnect harnas, sal ‘n tegnikus jou voertuig optimaal met die Unichip op ‘n dinamometer instel, terwyl temperature, uitlaatgasse en krag gemonitor word om te verseker dat jy so min moontlik brandstof gebruik wanneer jy rustig ry en om soveel veilige krag as moontlik beskikbaar te hê wanneer jy die petrolpedaal trap.

 

 

So hoe kry Dastek dit reg?

Nadat ons met Cornel gesels het oor wat dit beteken om ‘n Unichip te installeer, het ons die Prado na sy werkswinkel in Pretoria geneem. Die Unichip is relatief maklik in die Prado geïnstalleer en via die voertuig se harnas aan die ECU gekoppel. Dit is toe dat ons die Unichip se eerste partytjie-truuk ontdek het: dit het ‘n ingeboude immobiliseerder wat ontwerp is om jou voertuig ekstra beskerming teen diefstal te gee. Die immobiliseerder aktiveer wanneer jy jou voertuig afskakel. Jy kan dit deaktiveer deur die Unichip-toep op jou slimfoon.

Na die installering van die Unichip het ons na die dinamometer gegaan om die Unichip abba-rekenaar in te stel. Dastek sê die enigste manier om jou Unichip optimaal te laat werk, is om die werk deur ‘n gekwalifiseerde tegnikus te laat doen – op ‘n dinamometer, terwyl jy die voertuig se temperature, drukke ensomeer fyn dophou.

 

 

Wat is die doel van die Unichip?

Die doel van die Unichip is om die meeste uit jou voertuig te haal sonder om dit te beskadig. Volgens Dastek kan dit 10 tot 15 persent bykomende krag onttrek sonder om die voertuig se betroubaarheid te beïnvloed. Die eienaarshandleiding vir die Prado 3.0 D4-D lys ‘n kraglewering van 120kW of 161bhp. Tydens ons eerste proeflopie teen OEM-spesifikasie het die Prado ‘n piekkraglewering van 86.2kW (115.7bhp) by 3 500rpm en 75kW (100.3bhp) teen 4 000rpm gehad. Teen die laer toere (2 500rpm) het die Prado ‘n uitset van 76kW (100,5bhp) gelewer.

 

Natuurlik is daar ‘n groot verskil tussen die beloofde 120kW en 86.2kW… So, beteken dit dat Toyota vir jou lieg? Wel, nee… Die eenvoudige waarheid is dat die syfer van 120kW die werklike kraglewering van die enjin is, maar dit is nie te sê dat dit die krag is wat die voertuig se wiele bereik nie. Enige normale motor het ‘n mate van meganiese weerstand of dryfkrag verlies as gevolg van die energie wat deur die voertuig se asse en ratkas beweeg. Die meting wat deur die dinamometer verskaf word, is die voertuig se werklike wiel krag, wat die akkuraatste metode is om ‘n voertuig se effektiewe kraglewering te meet.

 

Die basislyn prestasie van die Prado is gemeet en ons het nog ‘n lopie op die dyno gedoen. Die volgende lopies was om die voertuig te verbeter deur verskeie aanpassings te maak.

 

Dastek en die Unichip het ‘n multi-kaartstelsel vir hul skyfies ontwikkel wat tot vyf instellings vir ‘n voertuig moontlik maak:

  • Kaart 1: Slegs ledig (immobiliseerder)
  • Kaart 2: Standaardinstellings (sodat jy kan voel hoe die voertuig loop sonder die optimale instelling).
  • Kaart 3: Eko- of ratbeheerkaart vir outomatiese ratkas.
  • Kaart 4: Daaglikse gebruik/sleep.
  • Kaart 5: Power+ of “speeltyd”.

 

Dit was die kaarte wat ons op ons beheer voertuig geïnstalleer het en ons het presies gekry wat Unichip belowe het. Die tweede toetslopie op die dyno het onmiddellik verbetering getoon. Ons werkverrigting teen lae toere (2 500rpm) is teen 85kW (113.5bhp) gemeet. Die kaart het ook die krag band verander, wat ons in staat gestel het om vroeër piek prestasie te kry en dit langer te behou. Ons piek het by 3 000rpm begin, met ‘n indrukwekkende kraglewering van 107kW (143.7bhp).

 

Ons het besluit om ‘n toetsrit te neem om die ander kenmerke van die enjin skyfie te toets. Die een waaroor ek die meeste opgewonde was, was Kaart 3 (eko-/ratbeheerkaart) aangesien Toyota se outomatiese ratkaste ‘n geneigdheid het om stadig te reageer op direkte versneller reaksie. Ek het dadelik ‘n verandering opgemerk in hoe die Prado ratte kies. Die ratkas het baie meer logies oor sy skakel tyd en rat keuse geword en ek glo dit sal tot beter brandstofverbruik lei, aangesien die toere laag gehou word (selfs wanneer dit versnel).

 

 

Ten slotte:

Oor die algemeen was ons baie beïndruk met die Unichip. Dit kan jou voertuig werklik transformeer. Terwyl die immobiliseerder beslis ‘n massiewe pluspunt is, inaggenome die hoë diefstalsyfer van Toyotas in hierdie land, is die ekstra krag beslis waarna die meeste verbruikers sou soek.

 

Dit is egter nie al waarvoor die Unichip goed is nie. As daar ‘n eienskap van jou dryfkrag is wat jou irriteer, soos turbo-agterstand of – soos in die geval van die Prado ‘n effe trae versnelling – sal Dastek en Unichip dit sekerlik kan regstel. En vir diegene wat bekommerd is dat die produk die betroubaarheid van ‘n voertuig kan beskadig, is Dastek daartoe verbind om jou voertuig so doeltreffend, so kragtig en so veilig moontlik te maak.

 

 

Neem ook kennis:

Soos met enigiets wat jy by jou voertuig voeg, is dit belangrik om jou navorsing te doen en met ‘n betroubare tegnikus of instellingsmaatskappy te konsulteer terwyl jy jou opsies oorweeg. Bespreek ook jou planne met jou handelaar en maak seker dat jy die waarborg voorwaardes van jou voertuig verstaan. – Red.

Click hier vir meer inligting oor die Unichip.